Agtergronddokument tot die Acacia-stemming

Tydens die Internasionale Botaniese Kongres (IBK) in Wene in 2005 is ’n 'besluit' geneem om die naam Acacia te konserveer met ’n nuwe tipe uit Australië (Acacia penninervis) wat die oorspronklike Afrika-tipe (Acacia nilotica) vervang. Die gevolg van hierdie hertipifisering is dat die toepassing van die naam Acacia slegs tot die hoofsaaklik Australiese wattels beperk word omdat dit voortaan nie meer vir die wydverspreide tropiese ware akasias gebruik mag word nie.

Ons betwis die geldigheid van hierdie 'besluit' en, aangesien die naam Acacia veel wyer as slegs deur die wetenskaplike gemeenskap gebruik word, wil ons graag almal by ons betwisting betrek wat wil meehelp om ’n sterk saak daar te stel ten einde die Acacia-hertipifisering tydens die volgende IBK-vergadering in Melbourne in 2011 ongeldig te laat verklaar.

Een van die minder erkende feite omtrent die vergadering van die Nomenklatuurseksie in Wene (2005) is die sukses van die ‘nee’-stemmers teen die voorstel om Acacia met ’n Australiese spesie te hertipifiseer. Die stemme van talle tropiese Herbariums het deel gevorm van die 54.9% meerderheidstem om nie die hertipifiseringsvoorstel te aanvaar nie, dit ondanks ’n hoogs georganiseerde veldtog deur die ondersteuners van die voorstel. By die aanvang van die sessie oor hierdie saak is ’n vereiste dat ’n 60% meerderheidstem benodig word om die hertipifiseringsvoorstel te verwerp egter skielik aangekondig. Sodanige vereiste is teenstrydig met die normale vergaderingprosedure by hierdie tipe byeenkoms wat ’n 60% meerderheid vereis om die Kode te verander, maar ’n gewone 50% meerderheid vir alle ander sake (wat ook die Acacia-hertipifiseringsvoorstel moes insluit).

Aangesien ’n duidelike meerderheidstem (54.9%) teen verandering in Wene uitgebring is, is ons van mening dat dit nie nodig is om die argumente vir en teen die hertipifisering deel van die huidige betwisting te maak nie. In plaas daarvan is ons van mening dat die beste en eenvoudigste benadering sal wees om die besluit se regsgeldigheid te betwis, slegs wat betref die meteens ingevoerde vereiste vir ’n 60% meerderheid om die hertipifisering tydens daardie vergadering te verwerp.

Enigeen wat besorg is oor die hertipifisering van Acacia, hetsy leek of professionele persoon, word gevra om te stem. Ons benodig aansienlike steun om die omvang van die ongelukkigheid met die wyse waarop die saak in 2005 hanteer is, te toon en om stukrag aan ons voorgenome betwisting van die saak in Melbourne in 2011 te verleen.

Duidelikheid oor waaroor in Wene gestem is

Daar is heelwat verwarring oor waaroor die stemmery in Wene eintlik gegaan het. Die verwarring het ontstaan weens die vermenging van sake wat te make het met die reëls waarvolgens plante benaam word of sogenaamde nomenklatuur (d.w.s. die werksopdrag van die Nomenklatuurseksie in Wene) met sake van ’n taksonomiese (klassifikasie) aard (d.w.s., of Acacia as ’n enkele groot genus met ’n aantal subgenusse behandel moet word, of in verskeie afsonderlike kleiner genusse onderverdeel moet word).

Eerstens word na die taksonomiese aspekte gekyk. Tans is daar oorweldigende getuienis dat Acacia (soos tradisioneel breed definieer met ’n aantal subgenusse) eerder in verskeie kleiner genusse onderverdeel sal moet word, hetsy nuut of heringestel. Trouens, dit is duidelik dat die hoofsaaklik Australiese lede, bekend as wattels, geensins naverwant aan die res van Acacia is nie, maar deel vorm van ’n heeltemal ander peulplanttribus (’n taksonomiese kategorie tussen genus en subfamilie). Hierdie nuwe insigte word oortuigend gesteun deur talle multidissiplinêre ondersoeke aan verskeie navorsingsinstellings. Ook word die bykans 207 Acacia-spesies wat tradisioneel in subgenus Aculeiferum geklassifiseer is, reeds in die meeste dele van die Amerikas as die heringestelde afsonderlike genus Senegalia erken, alhoewel die naamsveranderinge nog nie formeel vir al die spesies in Afrika gepubliseer is nie.

Die kern van die hertipifiseringsvoorstel was in wese nie taksonomies van aard nie, maar nomenklatories. Voorstanders van die voorstel het hul argumente gegrond op die feit dat daar veel meer Australiese wattels as ware tropiese akasias is. Konservering van die naam Acacia met ’n nuwe tipe uit Australië sou verseker dat die naam Acacia steeds gebruik sou kon word vir die meerderheid spesies van die tradisioneel breed gedefinieerde genus, d.w.s. die ongeveer 1000 hoofsaaklik Australiese wattels, in plaas van vir die ongeveer 161 ware akasias (d.w.s. uitgesluit die Senegalia-groep). Indien as afsonderlike genus geklassifiseer, sou die wattels in die afwesigheid van hertipifisering onder die naam Racosperma, die korrekte naam vir Acacia subgenus Phyllodineae op genusvlak, bekend moes staan.

Die 'ja'-stemmers in Wene het na vorige voorbeelde van hertipifisering verwys, bv. die geval van die peulplantgenus Hedysarum. Dit het aan die lig gekom dat die tipespesie van Hedysarum eintlik tot ’n ander genus (Sulla, met 7 spesies) as die res van Hedysarum (met 200+ spesies) behoort. Om grootskaalse verwarring weens naamsveranderinge te verhoed, is die naam Hedysarum vir die meerderheid van die spesies gekonserveer deur ’n nuwe tipe daarvoor aan te wys. Hierdie hertipifisering is om ’n goeie rede en op prysenswaardige wyse gedoen. In die geval van Acacia is hierdie voorbeeld egter minder nougeset en sonder goeie rede nagevolg. Nuwe name in die genus Racosperma vir die wattels is reeds jare gelede deur Les Pedley gepubliseer, met gevolglik geen onsekerheid oor wat die genusnaam moet wees indien hulle afsonderlik van Acacia geklassifiseer sou word nie. Verder is daar geen goeie rede waarom die tipe van die ongeveer 161 ware akasias (naamlik Acacia subgenus Acacia) wat oorbly nadat die ander generiese elemente daaruit verwyder is, verander moet word nie, want in hierdie geval is daar geen gevaar van potensiële generiese verwarring nie.

Die debat oor die onderverdeling van Acacia en die taksonomiese vlak waarop die splintergroepe erken moet word, is gevolglik heeltemal verskillend van dit waaroor in Wene gestem is, naamlik dat die tipe van die naam Acacia verplaas word van Acacia (spesifiek Acacia subgenus Acacia) na een van die wattels, bloot omdat laasgenoemde groep uit meer spesies bestaan. Die hertipifiseringspoging het ook min ag geslaan op die talle ander faktore betrokke by die saak, byvoorbeeld sosiale, kulturele, ekologiese, ekonomiese, demografiese of historiese belange wat gedebatteer moes word voordat vir of teen hertipifisering gestem word.

Klik hier om te stem